Die Kos Vos op kykNET Winslyn

Indien jy gisteraand se uitsending van Winslyn op kykNET kanaal 144 misgeloop het, hier is die insetsel wat hulle verfilm het saam met my en die span van Skript.tv.  Wat ‘n voorreg om onafhanklik te kan werk in ‘n vooruitstrewende industrie waar jy omring word deur ander briljante kreatiewe entrepreneurs!

Luister gerus na my wenke vir ander kreatiewe entrepreneurs wat ook ‘n loopbaan wil volg in ‘n digitale wêreld. Indien jy enige verdere vrae het oor my loopbaan en projekte, kontak my gerus.

Print Friendly

Die top 10 kombuisgereedskap wat elke huis moet hê

Kombuisgereedskap infografikaAs jy lief is vir kosmaak, wil jy graag die regte, basiese gereedskap hê om ’n sukses van elke maaltyd te maak. So, wat het jy nodig?

Hier is my top 10 kombuisgereedskap (klein intrumente) wat elke huis moet hê. Watter van hierdie gereedskap het jy in JOU kombuis?

  1. Groot mes: Hier sal enige groot, gladde, breë-lem, skerp mes (16-20 cm lem) voldoende wees. Jy het dit nodig om vleis te sny, kruie fyn te kap en amper enige ding onder die son mee te sny. Dis die grootste werkesel in enige toegwyde kok se kombuis. Ek gebruik ’n 20 cm chef mes van Wüsthof.
  2. Klein messie: ’n Skerp klein messie (8-12 cm lem) is doodeenvoudig onvervangbaar. Jy kan groente skil en sny, tamaties en kaas sny vir toebroodjies, plastiek verpakkings oopsny en biltong kerf. Kies self tussen ’n gladde lem of ’n getande lem – Victorinox maak ongelooflike klein messies (glad of getand) en hulle sny tamaties dat die biesies bewe.
  3. Broodmes: ’n Lang getande broodmes is ’n onvervangbare stuk gereedskap in jou kombuis. Jy kan nie ‘n vars brood uit jou oond probeer sny met ’n chef mes nie, wat nog te sê van ’n steak mes of ‘n klein groentemessie. Behalwe vir brood is ’n broodmes ook die ideale stuk gereedskap wanneer jy koeke horisontaal halveer, varsgebakte beskuit in vingers sny, stomende braaibroodjies in die skuinste sny – noem maar op.
  4. Slypstang: Ek het mooi gedink voor ek ’n slypstang op my lys gevoeg het. Daar is min dinge so frustrerend soos om met stomp messe te probeer kos voorberei. Messe kan slegs ’n goeie doel verrig wanneer dit vlymskerp is. Belê gerus in ’n ordentlike messlyper van jou keuse.
  5. Houtlepel: Hierdie argaïse dog eenvoudige stukkie toerusting is ’n moet in enige kombuis. Behalwe vir sop roer kan jy ook uie braai, witsous, roereier en potjiekos maak. Die hout maak nie jou potte seer nie, dis ’n goedkoop stukkie toerusting en hy hou vir jare.
  6. Spaan: Metaal-/plastiekspaan – hiermee lig jy ’n stukkie vis of ’n gebakte eier uit die pan, skep ’n quiche op jou bord, lig ’n warm focaccia uit ’n bakplaat, skep ’n pannekoek uit die pan, ens. Ek hou van ’n metaalspaan met ’n groot oppervlak, maar ’n smaller spaan soos op die foto is ’n baie handige stukkie gereedskap vir malvapoeding, lasagne en dies mees.
  7. Tang: Hierdie eenvoudige metaaltang is seker een van die mees handige stukke kombuisgereedskap in die geskiedenis van kosmaak. Behalwe vir braai, kan jy hom gebruik om lang drade pasta mee te skep, slaai te skep, steak in die pan om te draai, sosasies onder die rooster te draai, warm brode uit die oond te haal, roosterkoeke van die kole te haal – die moontlikhede is legio. Absoluut onvervangbaar.
  8. Draadklitser: Van eiers klits tot vla roer – ’n doodgewone draadklitser is ’n noodsaaklikheid in ’n goeie kombuis. Jy kan dalk hier en daar wegkom met ’n houtlepel in sommige omstandighede, maar daar is baie geleenthede waar ’n draadklitser jou enigste ware vriend gaan wees.
  9. Sagte silikon spatula: Wanneer jy daai laaste bietjie beslag moet uitskraap uit jou mengbak, of die laaste leksel pesto wil bymekaarskraap uit jou voedselverwerker, is jou silikon- of rubberspatula net die ding. ’n Goeie spatula is ’n stukkie gereedskap wat jou help bespaar en nie ’n druppel verlore laat gaan nie. Moenie ’n gewoonte daarvan maak om te gereeld daarmee te roer in warm potte nie, hulle word gou beskadig.
  10. Gaatjieslepel: As jy hou daarvan om kos in olie te braai, is ’n gaatjieslepel van kardinale belang. Wanneer jy krakerige hoenderrepies uit die olie skep, is dit soveel makliker om die hoender verder te dreineer op ’n stukkie kombuispapier sonder om te veel olie te vermors. Vir skyfies, potjiekos (veral osstert), koeksisters, donuts en so baie ander souserige en olierige disse is dit ’n noodsaaklikheid.

Watter kombuisgereedskap is op JOU top 10?

Print Friendly

Top 10 wenke vir stresvrye feestyd onthaal

'n Kersmaal wat ek in vroeër in Desember met Woolworths se luukse reeks feestelike produkte tuis voorberei het. Stresloos! (#mywwchristmas)

‘n Kersmaal wat ek in vroeër in Desember met Woolworths se luukse reeks feestelike produkte tuis voorberei het. Stresloos! (#mywwchristmas)

Dis middel Desember. Of “silly season”, soos dit in die volksmond bekendstaan. Die winkels is vol flitsende liggies, blink Kersboomballe, groot stukke vleis en reuse pakke soutbeskuitjies.

Ek is uiteindelik in Keurboomstrand saam met my familie – die plek waar ek onwillekeurig afskakel en my hele wese herlaai. Net om die draai is Plettenbergbaai – die meer kommersiële byenes waar ons noodgedwonge elke nou en dan moet gaan inkopies doen. Lees meer

Print Friendly