WEN: EEN-Pot/Pan/Bakplaat deur Mari-Louis Guy en Callie Maritz

een-panpotbakplaatWanneer Mari-Louis Guy en Callie Maritz ‘n nuwe boek bekendstel, neem die koswêreld kennis. EEN-pot/pan/bakplaat is hierdie gewilde broer-en-suster-span se sesde kookboek saam en verskyn tans op die rakke uitgegee deur Human & Rousseau.

Callie en Mari-Louis is kosstiliste van beroep en weet hoe om ‘n resep te skryf en voor te sit dat jou mond letterlik water. Enige boek wat onapologeties afskop met “kaasburgersop” sal maak dat ek my ore spits (en tien teen een my guns wen). Een het ontstaan uit die skrywers se besige lewens: daar is skaars genoeg tyd vir hul rowwe werkskedules en dis  daagliks ‘n uitdaging om genoeg tyd saam met hul families tuis te kan spandeer. Die resepte in die boek is geskryf om minder tyd te neem om voor te berei sodat jy meer tyd het vir die dinge wat saakmaak. En soos Callie sê: “Ek hou nie van skottelgoedwas nie”. EEN-pot/pan/bakplaat beteken minder skottelgoed en weereens meer tyd vir die dinge waarvan jy wel hou. “Laat die kos sy gang gaan terwyl jy tyd aan jou gesin afstaan”, sê Mari-Louis.

In hul agt hoofstukke maak die duo korte mette van 1) maalvleis en frikkadelle, 2) beesvleis, 3) hoender, 4) vis en seekos, 5) lamsvleis, 6) varkvleis, 7) vleisvrye resepte en 8) wors, spek en ham. Elke resep het ‘n volbladfoto – iets waarvan ek baie hou in resepteboeke. Die fotos is geneem deur Mari-Louis onder leiding van Paul Bransby en die stilering gedoen deur Mari-Louis en Callie. Die stilering is onopgesmuk en toeganklik met die klem op watertand geregte en pragtige bestanddele.

Resepte wat uitstaan is kaasburgersop (kompleet met maalvleis, piekels en ‘n hele flessie kaassmeer ingeroer), vrygesel bobotie (met gekookte eiers en blatjang bo-op), bees-bier-en-gortpot met lemoengremolata (die naam sê alles), hoender-en-parmesaan-pastarys (romerig, met ekstra spinasie en bevrore ertjies), hoenderfynvleis met skons (‘n klewerige deeg wat bo-op die taai, souserige hoender geskep en dan gebak word), kerriemossels (met rooi kerriepasta, klappermelk en noedels), lamsnek-bredie (met rooiwyn, roosmaryn en ‘n laag fyngesnyde, bruingebakte aartappels bo-op) en laaste maar nie die minste nie: geroosterde koolpastei (koolskywe gebak in ‘n romerige jogurt-mayonnaise met croutons, knoffelbotter en parmesaankaas – hoe’s daai?).

Resepte bedien gemiddeld 4-6 mense en bevat ‘n verskeidenheid vleis, seekos, pasta, groente, kruie en kaas. Oulike sê-goed en speelse notas verleen ‘n informele trant.

Een: pot/pan/bakplaat is beslis ‘n uitstekende toevoeging tot jou resepteboekversameling: “koesterende huiskos” met minder moeite, minder skottelgoed, meer samesyn. Te koop landwyd in toonaangewende boekwinkels teen R280. Ook in Engels beskikbaar as One: pot/pan/baking tray.

WEN: Een gelukkige leser kan ‘n kopie van Een: pot/pan/bakplaat wen! Antwoord die volgende vraag om in aanmerking te kom vir die trekking: Wie is die skrywers van Een: pot/pan/bakplaat? (laat jou antwoord in die kommentaar-veld hieronder)

Print Friendly

11 thoughts on “WEN: EEN-Pot/Pan/Bakplaat deur Mari-Louis Guy en Callie Maritz

Leave a Reply