Nuwe proelokaal en MCC vir Babylonstoren

inside-the-tasting-room

Die nuwe proelokaal by Babylonstoren.

Babylonstoren is ‘n unieke landgoed op die Klapmuts Simondium pad. Alhoewel baie wynplase in die Boland deesdae spog met hul eie deli, spa en/of restaurant, is dit die asemrowende tuin wat jy met geen ander plek sou kon verwar nie. Dis ‘n lushof wat geen perke ken nie – ‘n plek waar jy met verwondering kan ontdek, verken en weer soos ‘n kind voel.

In Desember 2015 het Babylonstoren hul nuwe wynproelokaal en Sprankel MCC bekendgestel – ‘n feestelike affêre wat ek tot my misnoeë moes misloop. Ek het myself beloof om sommer gou in die nuwejaar daar ‘n draai te gooi, want Babylonstoren doen niks vervelig nie.

Nog iets wat Babylonstoren uniek maak is hul onwrikbare toewyding tot vooruitstrewende ontwerp – ‘n goue draad wat deur als geweef is wat daar gedoen/geproduseer/verpak word. Die nuwe proelokaal is geleë in die middel van wingerde, bo-op ‘n gedeelte van die kelder. Dis lig en helder met groot glasvensters reg rondom – ‘n lugverkoelde glaskas wat as lafenis dien teen die versengende Simondium somerhitte. Die bedieningsarea is bedek met blink groen teëls, ‘n vars kontras teen die houtvloer en tekstuurryke natuurlike dekor.

wynmakersbord

Die wynmakersbord, soos ek dit op Instagram gedeel het.

wynmakersbordBenewens die verwagte wynproe bied Babylonstoren se proelokaal ook ‘n spyskaart met watertand peuselhappieborde. Ek het die “wynmakersbord” bestel – ‘n skouspelagtige dog vertroostende samestelling van eendlewerpatee, biltong en droëwors, boerenkaas, gemarineerde tamatieslaai, biltong-en-bloukaasterrien, vars vrugte en groente uit die tuin, varsgebakte brood en melba roosterbrood uit hul houtoond – als bedruip met hul bekroonde ekstrasuiwer olyfolie. Die bord sluit twee glase wyn in, of jy kan die opsie neem om jou wynproe eerder hierby in te sluit en te peusel soos jy proe. Elke peuselhappiebord is genoeg vir twee mense en wissel in babylonstoren-sprankelcroppedkoste van R150-R200.

Die wynproe ervaring word keurig aangebied deur goedopgeleide personeel. Die nuwe Sprankel is gemaak van suiwer Chardonnay druiwe en is ‘n 2011 klassieke Blanc de Blanc MCC. Alhoewel ek baie hou van die smaak (vars appel, brioche, lemmetjie, pomelo) is dit die treffende vlinder-ontwerp verpakking wat eerste die oog vang: helder oranje en donkerblou, gedoen deur legendariese grafiese ontwerper Peet Pienaar. Ander wyn wat ek geproe het, is die 2015 Babylonstoren 9 (‘n 9% alkohol Semillon), die 2015 Babylonstoren Viognier, die 2014 Babylonstoren Babel (rooi versnit) en die 2014 Babylonstoren Shiraz. Die Babylonstoren 9 was verrassend vol in geur vir ‘n lae-alkohol wyn, maar my gunsteling van die dag was die fluweelagtige Shiraz – ‘n goedgebalanseerde wyn wat oorloop van donker vrugtegeure.

Die proelokaal by Babylonstoren is oop daagliks van 10h00-18h00. Wynproekoste vanaf R25-R75. Keldertoere elke uur.

Kontak Babylonstoren:

Tel: +27 (0) 21 863 3852
E-pos: enquiries@babylonstoren.com
Web: www.babylonstoren.com
E-winkel: www.babylonstoren.com/shop/

Facebook: www.facebook.com/babylonstoren Twitter: @babylonstoren
Instagram: @babylonstoren

 

(Fotos verskaf deur Babylonstoren, behalwe waar anders vermeld.)

 

Print Friendly

Leave a Reply