Meer oor Ilse

Die Kos Vos

(fotografie deur Izél Alette Delport)

Ek is Ilse van der Merwe: kok, samesynskepper en volslae kosentoesias. Ek woon in skilderagtige Stellenbosch – koshoofstad van Suid Afrika. Na ‘n loopbaanskuif in 2011 het ek die laaste paar jaar die onuitputbare skatkis van die koswêreld ontdek deur my kosblog www.thefoodfox.com. Nou wil ek graag my kookwenke, resepte en avonture met jou deel op hierdie splinternuwe Afrikaanse platform.

(For my English blog, go to www.thefoodfox.com)

Antwoorde op gereelde vrae:

V: Hoekom het jy ‘n Afrikaanse blog (www.diekosvos.co.za) begin as jy reeds ‘n gevestigde Engelse blog (www.thefoodfox.com) het?

A: Ek het ‘n groot behoefte om Afrikaanse inhoud te genereer en om my digitale platforms uit te brei. Ek baie lief vir Afrikaans – dis ‘n ongelooflike uitdrukkingsvolle taal en die taal waarin ek die graagste kook. Ek beplan om hoofsaaklik video inhoud te genereer op diekosvos.co.za. My Engelse blog, thefoodfox.com, is sterk en ek het geen planne om dit opsy te skuif nie. Die grootste verskil is dat thefoodfox.com gerig is op resepinhoud vir ‘n globale gehoor, waar diekosvos.co.za meer gerig is op kookvideos, onthaalwenke en ander kosverwante inhoud vir ‘n (Suid-) Afrikaanse gehoor.

V: Wat kan ek verwag om te sien op Die Kos Vos?

A: Jy kan verwag om verskeie kosvideos te sien, asook geskrewe kosinhoud.Daar is verskeie afdelings vir video-inhoud op www.diekosvos.co.za: 1) Die Kos Vos 101: al die basiese resepte en tegnieke wat jy moet baasraak as jy hou van kosmaak, 2) Die Kos Vos vir Kinders: kinderkos en resepte waarby kinders kan betrokke raak tuis, 3) Die Kos Vos Samesyn: resepte vir onthaalgeleenthede saam met vriende en familie, en 4) Die Kos Vos Dek Tafel: wenke hoe om pragtige, eenvoudige tafels te dek vir samesyn tuis. Jy sal ook heelwat geskrewe resepte sien, informasie oor nuwe wyn en eetplekke wat ek ontdek, asook wenke vir onthaal.

V: Hoe lank is jy?

A: 1,90m

V: Wat is die kleur van die rooi lipstiffies wat jy dra?

A: MAC se Russian Red en Lady Danger

V: Is jy getroud? Het jy kinders?

A: Ek is getroud met Schalk van der Merwe, baskitaarspeler en historikus. Ons het ‘n dogter, Valki (5).

IMG_6972(1)

Ilse, Valki en Schalk van der Merwe.

V: Watter tipe kos eet jy elke dag?

A: Ek hou van goeie koffie en tuisgebakte growwe beskuit vroegoggend. Daarna eet ek amper elke dag soetgoed vir middagete – iets soos ‘n stuk koek, sjokolade, amandel croissant, cinnabun, oorskiet nagereg van die vorige aand, ens. Saans kook ek aandete vir my gesin by die huis. Ons is baie lief vir pasta en pizza, maar ons braai ook graag – veral hoender.

V: As jy heeltyd deur kos omring word, hoekom is jy nie vet nie?

A: Dis seker een van die vrae wat ek die meeste kry (mense is darem vreemd)! Ek spandeer baie tyd op my voete wanneer ek kook en mense onthaal, maar ek is ook lief vir draf. Ek glo in balans – sjokolade en soet gebakte lekkernye maak my gelukkig so ek eet dit gereeld vir ontbyt of middagete. Ek drink baie water (en wyn, natuurlik).

V: Watter opleiding het jy?

A: Ek het geen klassieke chef opleiding nie. Na skool het ek ‘n B. Verbruikerswetenskap (Kleding en Tekstiel) graad verwerf aan die Universiteit Stellenbosch in 2000. Ek het as kelnerin gewerk tydens my studentejare en baie geleer oor die restaurant industrie. Ek het al my kelnerin-geld spandeer op uiteet by die top restaurante in Stellenbosch. Daarna het ek vir ‘n kort tydjie gewerk in verkope by ‘n korporatiewe kledingmaatskappy in die stad, waarna ek ‘n kleurryke loopbaan gevolg het in die plaaslike rock ‘n roll musiekbedryf as besprekingagent en feesorganiseerder (2002-2011). Aan die einde van 2010 het ek die besluit gemaak om ‘n kosblog te begin skryf (www.thefoodfox.com). In 2011 het ek my besprekingsagentskap gesluit en die kosbedryf ‘n voltydse go gegee. Ek het in daardie tyd sosiale media inhoud geskryf vir ‘n paar groot korporatiewe kliënte en baie waardevolle ondervinding opgedoen i.t.v. kosnavorsing. In 2014 wen ek die Fair Lady Verbruikerstoekenning vir Beste Kos Blogger. My Engelse blog www.thefoodfox.com het vandag ‘n sterk, lojale groep aanhangers van oraloor die wêreld. Ek het oor die laaste 5 jaar ‘n belangrike les geleer: met die nodige toewyding en aanleg kan jy byna enigiets baasraak. Ek het baie ure, dae, weke, maande en jare spandeer aan oplees, kook, eksperimenteer en ek het geleer om my instinkte te volg. Vandag vertrou ek my palet, my getroue hande en my gesonde verstand.

Vrywaring: Ek is nie ‘n dieetkundige nie. Indien jy enige kosallergieë of spesiale dieetvoorkeure het, sou ek aanbeveel dat jy ‘n mediese spesialis raadpleeg.

Schalk, Valki en Ilse van der Merwe (fotografie deur Christine Meintjes)

Schalk, Valki en Ilse van der Merwe (fotografie deur Christine Meintjes)

Print Friendly