Alles-in-een ontbytbeskuit

Ontbytbeskuit met semelvlokkies, hawermout, sade, neute en nog meer. Een van die eerste kosfotos wat ek destyds geneem het in 2011, ter herrinnering aan my eens geliefde Fuji Finepix kamera.

Ontbytbeskuit met semelvlokkies, hawermout, sade, neute en nog meer. Een van die eerste kosfotos wat ek destyds geneem het in 2011, ter herrinnering aan my eens geliefde Fuji Finepix kamera.

Toe ek www.thefoodfox.com begin skryf het, was ek groener as ‘n groentjie. Ek het absoluut niks geweet van die sogenaamde blogwêreld daar buite nie, wat nog te sê van fotografie, kosstilering of kreatiewe skryfwerk. Maar een ding het ek vinnig geleer: die internet is ‘n wonderlike plek en jy kan jouself baie vinnig touwys maak deur byna enigiets te Google.

So het ek geleer hoe WordPress werk, hoe om my eie blogtema te kies en te verpersoonlik, hoe om custom CSS te kodeer (dis vandag steeds bietjie Grieks, maar ek kan darem die nodige regkry), hoe om verkeer na my blog te lok en hoe om sosiale media tot my voordeel in te span. Ek het geleer watter tipe reseptitels mense se aandag trek (“maklike hoender” en “sjokoladekoek” bly altyd wenners op enige soekenjin) en hoe om resepte te skryf wat vir die gemiddelde tuiskok toeganklik, doenbaar en sakpas is, maar bo alles heerlik smaak en onweerstaanbaar lyk.

Ek het aanvanklik my fotos self geneem (lees “probeer neem”) met ‘n basiese Fuji Finepics kamera – die resultate waarlik ondergemiddeld om die minste te sê.  Later jare het ek kragte saamgesnoer met die begaafde fotograaf Tasha Seccombe nadat Nicola Pretorius (kreatiewe towenares, destyds van The Pretty Blog) die briljante inisiatief gehad het om kosinhoud te genereer wat wedersyds vir al die betrokkenes tot voordeel sou strek.

Terug na Fuji Finepix: my sesde bloginskrywing ooit was vir “deluxe rusks” – ‘n karringmelkbeskuitresep wat ek aangepas het vanuit Huisgenoot 500 Wenresepte. Dis vandag ‘n absoluut onvervangbare deel van ons daaglikse oggendroetine in Casa del Vannemerwe en my nommer een japtrap-ontbytkeuse vir weeksoggende – gedoop in koffie of tee. Die resep bevat onder andere semelvlokkies (all bran flakes), hawermout, sesamsaad, sonneblomsaad, lynsaad, pekanneute, klapper, bruinsuiker, karringmelk en eiers. Ek het die botter oor die jare vervang met goeie kwaliteit canola olie vir ekstra Omega 3, 6 en 9. Dis ‘n roer-als-saam tipe resep wat jy dan in vlak bakplate bak, in vingers sny en uitdroog. Vir my is dit ‘n wonderlike verskoning om daagliks ‘n dosis growwigheid in te kry, want beskuit wat so lekker smaak voel meer soos bederf as ontbyt.

So, hier is die nuutste weergawe van my resep vir alles-in-een ontbytbeskuit. En vir nostalgie, een van die oorspronklike fotos van die inskrywing op 10 Februarie 2011 te danke aan die eens geliefde Fuji Finepics (ek het eerder nie die foto met die blou lappie hier herhaal nie, siestog). Soos Tasha gereeld sal sê as ons sukkel om “bruin kos” af te neem: “It is what it is”. Beskuit. Maar dit smaak blerrie lekker.

Bestanddele:

  • 1kg bruismeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 10ml sout
  • 500ml bruinsuiker
  • 250ml sonneblomsaad
  • 250ml lynsaad
  • 125ml sesamsaad
  • 100g (250 ml) pekanneute, grofgekap
  • 250ml hawermout
  • 125ml droeë klapper
  • 500ml semelvlokkies (all bran flakes)
  • 2  ekstragroot eiers
  • 500ml karringmelk
  • 500ml canola olie

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 C. Voer 2 standaard bakplate met kleefvrye bakpapier.
  2. In ‘n baie groot mengbak (‘n skottel of waskom werk die beste), meng die bruismeel, bakpoeier, sout, bruinsuiker, sade, neute, hawermout, klapper en semelvlokkies met ‘n houtlepel.
  3. In ‘n kleiner mengbak, klits die eiers, karringmelk en canola olie. Gooi dit by die droeë bestanddele en meng goed. Hier het jy ‘n bietjie “elbow grease” nodig, want die mengsel is swaar. Roer totdat daar geen droeë dele sigbaar is nie.
  4. Verdeel die mengsel gelykop tussen die twee bakplate. Gebruik nat hande om die mengsel eweredig te versprei tot in die hoeke, en druk dit netjies plat (‘n ander opsie is om nog ‘n laag kleefvrye bakpapier bo-op te sit, en ‘n koekroller te gebruik om dit eweredig te versprei deur te plat te rol – verwyder die boonste laag papier voor jy dit bak).
  5. Bak die twee panne teen 180 C vir 35-40 minute tot goudbruin. Indien jou oond oneweredig bak, ruil die twee plate om teen halftyd.
  6. Verwyder uit die oond en keer versigtig om op draadrakke om af te koel.
  7. Gebruik ‘n skerp lang broodmes om die reghoeke op te sny – ek sny dit in drie rye in die lengte, en dan in 2cm breë vingers. Pak die vingers direk op die oond se draadrakke, effens uitmekaar, en droog uit vir 3 ure teen 90 C (as jy naby die see woon, sal jy dalk jou temperatuur moet aanpas tot 100 C).
  8. Skakel die oond af en maak die deur oop sodat die beskuit kan afkoel. Wanneer dit kamertemperatuur is, pak dit in ‘n groot digsluitende plastiekhouer (ek gebruik ‘n vierkantige 9,5 liter Addis bak en vul dit ongeveer 3/4 vol). Die beskuit sal goed hou op die rak vir minstens 4 weke.
Print Friendly

9 thoughts on “Alles-in-een ontbytbeskuit

  1. Carien says:

    Ek kook en bak nie graag nie, maar het al hierdie fantastiese growwe beskuit van Ilse geproe. Ek is baie opgewonde oor die resep en gaan dit self probeer!

  2. Elizma Rawoo says:

    Ja ja ja!!!!! Fantasties dankie!! Ek gebruik basies dieselfde resep (en ek bak ELKE VRYDAG BESKUIT 😂) GAAN verseker diè vrydag jou olie in plaas van my gewone 500g BOTTER gebruik! Sien baie uit. Dankie xx

    • diekosvos says:

      Wonderlik Elizma! Elke Vrydag? Wow! Ek het in die ou dae margarien gebruik (ou, ou dae) en intussen ook al botter probeer maar die canola olie gee vir my die beste resultaat. Jy sal wel ‘n smaakverskil optel – dis minder “ryk” en effens meer krakerig, wat ‘n goeie ding is. Hoop jy hou daarvan!

    • diekosvos says:

      Hi Hannie, die klapper raak glad nie galsterig nie – ek bak hierdie resep al vir jare. Maar jy kan dit beslis uitlos as jy nie van die smaak hou nie of as iemand daarvoor allergies is. Ek hoop jy geniet dit!

  3. Marie Antoinette Voges says:

    Baie dankie Ilse vir die heerlike resepte. Waardeer.

    Vriendelike versoek asseblief. Kan jy nie asb onderaan elke resep die Print en PDF opsies aanbring sodat daar ‘n keuse is nie? Ek verkies PDF formaat en stoor die resep dan in ‘n seksie van OneNote op my rekenaar (laptop). So is my resepte bykans altyd byderhand. Nadat ek ‘n resep getoets het en daarvan hou, sal ek dit uitdruk en in my Resepte Houer liasseer. Ook maklik om aan iemand anders in PDF formaat te stuur.

    Baie dankie.

    • diekosvos says:

      Dankie Marie, dis ‘n baie goeie idee! Ek het sopas die plugin afgelaai en die funksionaliteit sal binnekort op my blog beskikbaar wees. Geniet die dag!

  4. Marie Antoinette Voges says:

    Baie dankie Ilse! Waardeer. Ons SA sjefs, ens hoef nie meer vir oorsese voedselblogs opsy te staan nie! Ek konsentreer feitlik net op SA blogs, ens. Uitstekend! Weereens baie dankie vir die deel van jul kennis met andere. Groete

Leave a Reply