Paasfees ete met Chef Mynhardt Joubert

Chef Mynhardt se Paasfeestafel.

Verlede week het ek die voorreg gehad om ‘n gas te wees aan Chef Mynhardt Joubert se Paasfeestafel by sy kombuisrestaurant in die Paarl. Mynhardt is ‘n vindingryke chef wat groepe van 10-30 gaste onthaal in ‘n ontspanne atmosfeer op die eerste vloer van ‘n lieflike historiese gebou skuins oorkant die ou stasie. Hy snoer kragte met KWV en bedien Kruxland gin mengeldrankies om sy gaste te verwelkom, asook ‘n reeks KWV wyne gedurende die maaltyd en verouderde brandewyn om mee af te sluit. Hy is ‘n verteenwoordiger van Karusaf skaapvleis (Karoo Vleis Van Oorsprong gesertifiseerd) en ons het die lekkerste geroosterde skaap en vye pasta geëet vir hoofgereg.

Mynhardt weet hoe om sy gaste welkom te laat voel en dit was ‘n vreugde om sy hele span te ontmoet. Sy slim paasfeesdekor-idees was speels en pragtig. Hier is ‘n reeks fotos van my middagete by Mynhardt se studio – ek kan dit baie sterk aanbeveel vir ‘n groep vriende wat ‘n privaatete wil bespreek om ‘n spesiale geleentheid te vier, of selfs net om die lewe te vier!

Chef Mynhardt’s se kombuisrestaurant is geleë op die eerste vloer van hierdie pragtige historiese gebou.

KWV Kruxland en Barker & Quinn op die G&T tafel, met Paasfees dekor en ‘n handgeskrewe swartbordspyskaart.

‘n Deeltjie van Chef Mynhardt se kookboekversameling.

Chef Mynhardt en chef Frikkie in die kombuis by die pampoenbrood.

Pampoenbrood met amandelbotter en kersiekonfyt, bedien met Laborie MCC Rosé.

Sophia Adonis gepiekelde viskoekies met mosbolletjies en mango puree, bedien met KWV Classic Moscato.

“Fried green tomatoes” met aspersies, saggekookte eier en spek, bedien met KWV Classic Chenin Blanc.

Karusaf geroosterde lam met gekarameliseerde vye, chilli vlokkies, dennepitte en gorgonzola tagliatelle, bedien met KWV Classic Petit Verdot.

‘n Vinnige foto saam met die ster van die dag, Chef Mynhardt Joubert. Ek moes net hierna laat spaander en het ongelukkig die nagereg misgeloop. Volgende keer kuier ek baie langer!

Paasfeesdekor op die G&T tafel.

‘n Geskenkpak vir Paasfees vanaf Chef Mynhardt – wow! Die geskenkpak het ook ‘n pak vleis van Karusaf ingesluit.

Baie dankie aan Jeanri-Tine van Zyl van Feedthatbird.co.za vir die uitnodiging.

Chef Mynhardt se etes kos R450-R650 per kop. Bespreek by chef@mynhardt.co.za vir jou getaileerde ervaring.

Save

Save

Save

Save

Die Kos Vos op kykNET Winslyn

Indien jy gisteraand se uitsending van Winslyn op kykNET kanaal 144 misgeloop het, hier is die insetsel wat hulle verfilm het saam met my en die span van Skript.tv.  Wat ‘n voorreg om onafhanklik te kan werk in ‘n vooruitstrewende industrie waar jy omring word deur ander briljante kreatiewe entrepreneurs!

Luister gerus na my wenke vir ander kreatiewe entrepreneurs wat ook ‘n loopbaan wil volg in ‘n digitale wêreld. Indien jy enige verdere vrae het oor my loopbaan en projekte, kontak my gerus.

Appelkooskonfyt

 

Vars appelkose, mooier as mooi.

Ek was eergister weer by Blue Jay plaasstal. Vandat ons middedorp toe getrek het in 2016, kom ek minder gereeld op die R44 net anderkant Cloetesville. Maar dis een van Stellenbosch se bes bewaarde geheime – ‘n oase van vars vrugte en groente, pragtige songedroogde vye, vrugtepulp en weelderige dik vrugtesap. Sommige groente en kruie word in klein hoeveelhede sommer rondom die winkeltjie gegroei en ander kom van heinde en verre, gewoonlik oorskot uitvoergehalte vrugte.

Hierdie keer loop ek my vas in ‘n laat oes appelkose. Nie perfekte appelkose nie, maar uitstekend vir inlê en later geniet. Teen R25 vir amper 7 kg is ek daarna direk winkel toe om suiker te koop, want konfyt is eerste op my lys (en dan maak ek suurtjies met die res).

As jy nog nie konfyt gekook het nie, sal jy verbaas wees oor die eenvoud van die resep. Dis ‘n 50/50% ratio vrugte teenoor suiker, niks anders nie. Al klink dit baie soet, is die suiker nodig om die vrugte te preserveer en as jy dit nie te lank kook nie sal die smaak van die vrugte net meer intens word – fantasties vir ‘n stukkie growwe roosterbrood met dik botter.

Tuisgemaakte konfyt maak briljante geskenke, so maak eerder ‘n groter hoeveelheid klein potjies as een of twee grotes.

Appelkooskonfyt met ‘n ligte kleur en heel vrugtestukke bly koningskos.

Bestanddele:

  • 1,5 kg ryp, ferm appelkose
  • 1,5 kg witsuiker

Metode:

  1. Steriliseer ongeveer 8 x 250 ml glaspotjies met deksels (kook dit vir 5 minute in water of plaas dit in jou skottelgoedmasjien op ‘n warm siklus).
  2. Spoel die appelkose af, sny dit in die helfte en verwyder die pitte.
  3. Plaas die appelkose in ‘n groot, swaarboom, wye kastrol en voeg die suiker by. Verhit op medium hitte sodat die vrugte begin vloeistof vrystel en die suiker begin smelt. Roer elke nou en dan om te verhoed dat die mengsel brand.
  4. Bring tot kookpunt wanneer die suiker in ‘n dik stroop verander en skep die skuim af wat bo-op vorm. Roer versigtig, maar moenie die vrugtestukke te veel opbreek nie.
  5. Die kooktydperk gaan afhang van ‘n paar faktore: die grootte en aard van jou pot, die hitte van jou stoofplaat en die rypheid van jou vrugte. Kook dit totdat die geluid van die borrels verander van ‘n rollende gebruis tot ‘n plof-plof stroopgeluid – my skoonma noem dit die “braaistadium”. Toets ‘n teelepel vol op ‘n koue piering en kyk of dit effens stol. Dit moenie hard word nie, dit moet net soos ‘n dikkerige jel lyk.
  6. Verwyder die konfyt van die hitte en skep dit dadelik versigtig in die glaspotjies. Laat so min moontlik spasie aan die bokant en draai onmiddellik die deksels vas (hou die warm potjies vas met ‘n vadoek). Laat die konfyt afkoel. Indien jy ‘n “pop” geluid hoor tydens die afkoelproses, beteken dit die potjies het geseël en sal dus vir ‘n goeie paar maande op die rak of in ‘n koel en droeë kas behoue bly.
  7. Geniet die konfyt op gebotterde roosterbrood of scones, of gebruik dit vir gebak soos Hertzoggies. Bêre in die yskas sodra ‘n potjie oop is.

Bottelleer jou konfyt in gesteriliseerde glashouers.

Save

Save

Save

Kabeljou oor die kole

Ek verfilm elke maand ‘n kookvideo in samewerking met TUIS Tydkrif vir #KosVosVrydag (die laaste Vrydag van die maand). Hier is ‘n fantastiese resep vir maklike appelkoosbottersous waarmee jy vars vis kan bedruip vir die kole. Ek het ‘n kabeljou gebraai, maar die sous is ook perfek vir snoek, forel en amper enige vars vis.

Geniet die feestyd!

Kabeljou oor die kole met appelkoosbottersous: (bedien 4-6)

  • 125 ml botter, gesmelt
  • sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 1-2 knoffelhuisies, fyngerasper
  • 30 ml fyn appelkooskonfyt
  • ’n handvol vars dille, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 vars vis, gevlek (bv. kabeljou, geelstert of snoek – minstens 1,7-2 kg)
  • ’n bietjie kookolie (om die rooster mee te olie)

Metode:

  1. Meng die botter, suurlemoensap en -skil, knoffel, konfyt, dille, sout en peper in ’n klein mengbakkie of kastrolletjie met ’n handklitser. Die konfyt moet heeltemaal gemeng wees.
  2. Gebruik die olie om die binnekant van jou toeklaprooster te olie sodat dit vis nie vassit nie.
    Plaas die vis velkant na onder op die rooster.
  3. Gebruik ’n kwassie om die vis te bedruip met die sous. Braai die vis oor medium-warm kole – begin met die velkant na onder.
  4. Wanneer die vis effens gaar begin word aan die bokant (die vis sal plek-plek witter begin lyk, dit neem ongeveer 7-10 minute), draai dit om sodat die bokant ook kleur kry en die vis deurgaar word. Draai weer terug en bedruip ’n laaste keer met die sous. Moenie die vis te lank braai nie anders sal dit droog word.
  5. Verwyder versigtig van die rooster en plaas op ’n opdienbord. Bedien met aartappels en ’n groenslaai.

Wenk: Kook die sous vir 30-60 sekondes in die mikrogolfoond om dit ook as ’n opdiensous te kan voorsit.

Niks is so lekker soos vars vis op die rooster nie! (fotografie deur Francois Oberholster van TUIS Tydskrif)

Save

WEN: EEN-Pot/Pan/Bakplaat deur Mari-Louis Guy en Callie Maritz

een-panpotbakplaatWanneer Mari-Louis Guy en Callie Maritz ‘n nuwe boek bekendstel, neem die koswêreld kennis. EEN-pot/pan/bakplaat is hierdie gewilde broer-en-suster-span se sesde kookboek saam en verskyn tans op die rakke uitgegee deur Human & Rousseau.

Callie en Mari-Louis is kosstiliste van beroep en weet hoe om ‘n resep te skryf en voor te sit dat jou mond letterlik water. Enige boek wat onapologeties afskop met “kaasburgersop” sal maak dat ek my ore spits (en tien teen een my guns wen). Een het ontstaan uit die skrywers se besige lewens: daar is skaars genoeg tyd vir hul rowwe werkskedules en dis  daagliks ‘n uitdaging om genoeg tyd saam met hul families tuis te kan spandeer. Die resepte in die boek is geskryf om minder tyd te neem om voor te berei sodat jy meer tyd het vir die dinge wat saakmaak. En soos Callie sê: “Ek hou nie van skottelgoedwas nie”. EEN-pot/pan/bakplaat beteken minder skottelgoed en weereens meer tyd vir die dinge waarvan jy wel hou. “Laat die kos sy gang gaan terwyl jy tyd aan jou gesin afstaan”, sê Mari-Louis.

In hul agt hoofstukke maak die duo korte mette van 1) maalvleis en frikkadelle, 2) beesvleis, 3) hoender, 4) vis en seekos, 5) lamsvleis, 6) varkvleis, 7) vleisvrye resepte en 8) wors, spek en ham. Elke resep het ‘n volbladfoto – iets waarvan ek baie hou in resepteboeke. Die fotos is geneem deur Mari-Louis onder leiding van Paul Bransby en die stilering gedoen deur Mari-Louis en Callie. Die stilering is onopgesmuk en toeganklik met die klem op watertand geregte en pragtige bestanddele.

Resepte wat uitstaan is kaasburgersop (kompleet met maalvleis, piekels en ‘n hele flessie kaassmeer ingeroer), vrygesel bobotie (met gekookte eiers en blatjang bo-op), bees-bier-en-gortpot met lemoengremolata (die naam sê alles), hoender-en-parmesaan-pastarys (romerig, met ekstra spinasie en bevrore ertjies), hoenderfynvleis met skons (‘n klewerige deeg wat bo-op die taai, souserige hoender geskep en dan gebak word), kerriemossels (met rooi kerriepasta, klappermelk en noedels), lamsnek-bredie (met rooiwyn, roosmaryn en ‘n laag fyngesnyde, bruingebakte aartappels bo-op) en laaste maar nie die minste nie: geroosterde koolpastei (koolskywe gebak in ‘n romerige jogurt-mayonnaise met croutons, knoffelbotter en parmesaankaas – hoe’s daai?).

Resepte bedien gemiddeld 4-6 mense en bevat ‘n verskeidenheid vleis, seekos, pasta, groente, kruie en kaas. Oulike sê-goed en speelse notas verleen ‘n informele trant.

Een: pot/pan/bakplaat is beslis ‘n uitstekende toevoeging tot jou resepteboekversameling: “koesterende huiskos” met minder moeite, minder skottelgoed, meer samesyn. Te koop landwyd in toonaangewende boekwinkels teen R280. Ook in Engels beskikbaar as One: pot/pan/baking tray.

WEN: Een gelukkige leser kan ‘n kopie van Een: pot/pan/bakplaat wen! Antwoord die volgende vraag om in aanmerking te kom vir die trekking: Wie is die skrywers van Een: pot/pan/bakplaat? (laat jou antwoord in die kommentaar-veld hieronder)

Kitsflits: Hoe gemaak met ‘n surplus avokadopere?

Ek is vreeslik lief vir avokados. En daar is so baie maniere om dit geniet. Maar hoe gemaak as jy dalk ‘n boom in jou tuin het wat honderde avokados dra, en hulle is byna almal ryp op dieselfde tyd? Kan jy dit vries?

Kyk gerus my video waarin ek hierdie vrae beantwoord. Indien jy inspirasie soek vir die beste avo resepte op die web, hier is ‘n lys met fantastiese skakels waar jy sommer tonne inspirasie sal vind:

  1. Sjokolade avokado poeding via BonAppetit.com
  2. Kreef en avokado slaai met sitrus slaaisous via BonAppetit.com
  3. “Nuwe” avokado op roosterbrood met tahini en chilli vlokkies via BonAppetit.com
  4. Avokado en eier ontbyt-toebroodjie via BonAppetit.com
  5. Avokado en stadig-geroosterde tamaties op roosterbrood via JamieOliver.com
  6. Frida Kahlo se avokado en murgpampoentjie slaai via Saveur.com
  7. Swart boon burger met salsa fresca en avokadoroom via Saveur.com
  8. Avokado hummus met dukkah en geroosterde platbrode via DonnaHay.com
  9. Fudgerige avokado bruintjies met sjokolade fudge versiersel via HalfBakedHarvest.com
  10. Avokado kakao moes via TheKitchn.com

Die top 10 kombuisgereedskap wat elke huis moet hê

Kombuisgereedskap infografikaAs jy lief is vir kosmaak, wil jy graag die regte, basiese gereedskap hê om ’n sukses van elke maaltyd te maak. So, wat het jy nodig?

Hier is my top 10 kombuisgereedskap (klein intrumente) wat elke huis moet hê. Watter van hierdie gereedskap het jy in JOU kombuis?

  1. Groot mes: Hier sal enige groot, gladde, breë-lem, skerp mes (16-20 cm lem) voldoende wees. Jy het dit nodig om vleis te sny, kruie fyn te kap en amper enige ding onder die son mee te sny. Dis die grootste werkesel in enige toegwyde kok se kombuis. Ek gebruik ’n 20 cm chef mes van Wüsthof.
  2. Klein messie: ’n Skerp klein messie (8-12 cm lem) is doodeenvoudig onvervangbaar. Jy kan groente skil en sny, tamaties en kaas sny vir toebroodjies, plastiek verpakkings oopsny en biltong kerf. Kies self tussen ’n gladde lem of ’n getande lem – Victorinox maak ongelooflike klein messies (glad of getand) en hulle sny tamaties dat die biesies bewe.
  3. Broodmes: ’n Lang getande broodmes is ’n onvervangbare stuk gereedskap in jou kombuis. Jy kan nie ‘n vars brood uit jou oond probeer sny met ’n chef mes nie, wat nog te sê van ’n steak mes of ‘n klein groentemessie. Behalwe vir brood is ’n broodmes ook die ideale stuk gereedskap wanneer jy koeke horisontaal halveer, varsgebakte beskuit in vingers sny, stomende braaibroodjies in die skuinste sny – noem maar op.
  4. Slypstang: Ek het mooi gedink voor ek ’n slypstang op my lys gevoeg het. Daar is min dinge so frustrerend soos om met stomp messe te probeer kos voorberei. Messe kan slegs ’n goeie doel verrig wanneer dit vlymskerp is. Belê gerus in ’n ordentlike messlyper van jou keuse.
  5. Houtlepel: Hierdie argaïse dog eenvoudige stukkie toerusting is ’n moet in enige kombuis. Behalwe vir sop roer kan jy ook uie braai, witsous, roereier en potjiekos maak. Die hout maak nie jou potte seer nie, dis ’n goedkoop stukkie toerusting en hy hou vir jare.
  6. Spaan: Metaal-/plastiekspaan – hiermee lig jy ’n stukkie vis of ’n gebakte eier uit die pan, skep ’n quiche op jou bord, lig ’n warm focaccia uit ’n bakplaat, skep ’n pannekoek uit die pan, ens. Ek hou van ’n metaalspaan met ’n groot oppervlak, maar ’n smaller spaan soos op die foto is ’n baie handige stukkie gereedskap vir malvapoeding, lasagne en dies mees.
  7. Tang: Hierdie eenvoudige metaaltang is seker een van die mees handige stukke kombuisgereedskap in die geskiedenis van kosmaak. Behalwe vir braai, kan jy hom gebruik om lang drade pasta mee te skep, slaai te skep, steak in die pan om te draai, sosasies onder die rooster te draai, warm brode uit die oond te haal, roosterkoeke van die kole te haal – die moontlikhede is legio. Absoluut onvervangbaar.
  8. Draadklitser: Van eiers klits tot vla roer – ’n doodgewone draadklitser is ’n noodsaaklikheid in ’n goeie kombuis. Jy kan dalk hier en daar wegkom met ’n houtlepel in sommige omstandighede, maar daar is baie geleenthede waar ’n draadklitser jou enigste ware vriend gaan wees.
  9. Sagte silikon spatula: Wanneer jy daai laaste bietjie beslag moet uitskraap uit jou mengbak, of die laaste leksel pesto wil bymekaarskraap uit jou voedselverwerker, is jou silikon- of rubberspatula net die ding. ’n Goeie spatula is ’n stukkie gereedskap wat jou help bespaar en nie ’n druppel verlore laat gaan nie. Moenie ’n gewoonte daarvan maak om te gereeld daarmee te roer in warm potte nie, hulle word gou beskadig.
  10. Gaatjieslepel: As jy hou daarvan om kos in olie te braai, is ’n gaatjieslepel van kardinale belang. Wanneer jy krakerige hoenderrepies uit die olie skep, is dit soveel makliker om die hoender verder te dreineer op ’n stukkie kombuispapier sonder om te veel olie te vermors. Vir skyfies, potjiekos (veral osstert), koeksisters, donuts en so baie ander souserige en olierige disse is dit ’n noodsaaklikheid.

Watter kombuisgereedskap is op JOU top 10?

Gekrummelde hoenderrepies

Ek is bevoorreg om een, pragtige, gesonde kind te hê – ’n vyfjarige dogter met die unieke naam, Valki. Valki is ’n Skandinawiese (Viking-) naam en dit beteken “fantasties”. Toe ons haar naam gekies het, het ons min geweet dat haar persoonlikheid so goed by haar naam sou pas. Valki ís fantasties! Sy is borrelend, haar entoesiasme is aansteeklik, sy is nuuskierig en vlymskerp met ’n bekoorlike sin vir humor.

Ek en Valki kook graag saam. Kinders is gewoonlik baie geinteresseerd in kosmaak – ek wens meer ouers wil hul kinders toelaat om te help kook. Dis ’n fantastiese manier om kinders bewus te maak van goeie bestanddele, gebalanseerde eetgewoontes en wonderlike samesyn in die kombuis.

Geniet hierdie resep vir gekrummelde hoenderrepies, dis ’n absolute gunsteling in ons huis vir jonk en oud.

Krakerige gekrummelde hoenderrepies met tamatiesous.

Krakerige gekrummelde hoenderrepies met tamatiesous (foto en stilering deur Nicola Pretorius)

Bestanddele: (bedien 4-6 as ’n ligte ete)

  • 1/2 koppie meel
  • 1 teelepel sout
  • 1 teelepel paprika
  • 500 g hoenderborsies, opgesny in repies
  • 4 eiers, geklits
  • 6 snye brood, fyngemaak in ’n voedselverwerker
  • canola olie, vir vlakbraai

Metode:

  1. Meng die meel, sout en paprika saam in ’n vlak bakkie.
  2. Doop elke hoenderrepie in die meelmengsel, dan in die eier en dan in die krummels. Maak seker die krummels bedek elke repie, en plaas dit dan een vir een op ’n skoon bord of skinkbord.
  3. Verhit die olie in ’n groot swaart pot, en vlakbraai aan beide kante tot goudbruin (of bak dit op ’n gevoerde bakplaat teen 220 C vir ongeveer 20 minute tot goudbruin). Dreineer op kombuispapier en bedien met tamatiesous or mayonnaise.

Wenk: Die hoenderrepies verkry ’n lieflike krakerige resultaat as dit gebraai word in olie, maar jy sal heelwat vet uitsny indien jy dit eerder in die oond bak. Kinders kort goeie olies in hul dieet en ek verkies self of dit eerder in olie te braai. Maak self die besluit wat vir jou huishouding die beste sal werk.

Krediete:

Video vervaardig deur Skript.tv.

Draaiboek, aanbieding en resep: Ilse van der Merwe – Die Kos Vos

Handelsmerk- en stelbestuur: René Geustyn – the O. co

Stelstilering, kosstilering en fotografie: Nicola Pretorius – Lark Haus.